Wie de vlog is ek?


 

My ‘Wie de vlog is ek?’ joernaal is 'n Spirituele pelgrimstog - 'n geestelike behoefte na sinvolheid na alle verbinding verbreek is vir jare met mense wat ek gevoel het my intens teleurgestel het en seergemaak het (victim mentality). Gedurende die pynvolle, emotionele verwerkingsproses was ek gefokus op al die fasette van menswees in 'n drie-dimensiële wêreld, ek het geworstel met eksistensiële vrae om sin te maak van die dood, my lewenservaring (en verwagtinge) en om die doel van my bestaan te vind: Wie is ek, waar kom ek vandaan, wat beteken my lewe en wat kan ek doen om 'n verskil te maak- en van die wêreld 'n beter plek te maak?

Hierdie vrae het my eventueel op 'n vreemde (maar tog vreemd bekende) innerlike magiese wentelbaan geplaas waar ek meer bewus geraak het van ander geestelike dimensies en 'n Goddelike bewustheid ontwaak het. 'n Wake-up call. God is 'n liefdevolle God (ja liefdevol!) Nader aan God is daar is geen haat, nyd, wraak, vrees, verraad, oordeel, fire & brimstone nie, want die fokus is op agape liefde, omgee, diensbaarheid, regverdigheid, moraliteit, integriteit, genade, vergifnis - en dankbaarheid. So vêr soos die Ooste van die Weste is, so vêr neem Hy ons sonde weg van ons.

Die Een en Enigste God van die heelal is die oorspronklike bron van almagtige energie - en ons is (van) die gelukkige wesens met wie Hy sy Gees en liefde deel. Ja, daar is ander wesens ook, veelvuldige entiteite en hier fokus ek weereens nie op die bose geeste en demone nie. "Energy flows where attention goes."  Daar is baie wat ons kan doen om nader aan God te kom, en hier steek ek my kop in 'n bynes want kerke en Christene noem dit ongoddelike oosterse praktyke, maar gefokuste asemhalingstegnieke, meditasie en energie-helingstegnieke soos Reiki het van my 'n God gefokusde persoon gemaak wat weet Hy is die bron van my bestaan.

Die ervaring het my op 'n geheimsinnige manier getransformeer, my lewe onherroeplik verander. Dit sal onregverdig wees as ek nie vertel wat die waarde daarvan is nie. Ek is nog nie waar ek wil wees nie, ek weet nog niks, die pelgrimstog is nie verby nie. ek is nog steeds nie gebalanseerd nie, maar dalk wil ek nooit weer 'balanced' wees nie, want ongebalanseerd klou ek aan God vir lewe en dood.


Comments